Die bereddering van ‘n boedel is ‘n tegniese proses en dié dokument bied ‘n uiteensetting van relevante inligting aangaande die administrasie van ‘n boedel.

Aanstel van ‘n eksekuteur

Voordat die eksekuteur van ‘n boedel aangestel kan word, moet die Meester van die Hoër Hof (die Meester) amptelik van die dood in kennis gestel word. Dit word gedoen deur sekere voorgeskrewe dokumente (bv. doodsertifikaat, inventaris, aanneming van eksekuteurskap en die testament, indien enige) by die Meester in te dien.

Wanneer die Meester die ingediende dokumente ontvang, sal die dokumente deur hom nagegaan word en die geldigheid van die testament, indien enige vasstel. As hy tevrede is, sal hy ‘n eksekuteur aanstel deur ‘n ”Eksekuteursbrief” uit te reik Indien geen testament nie, of benoemde eksekuteur is nie beskikbaar nie, is die algemene werkswyse dat skriftelike nominasies aan die Meester voorgelê word vir sy goedkeuring en die eksekuteur aanstel deur ook ‘n Eksekuteursbrief uit te reik.

Indien die testament nie die genomineerde eksekuteur vrystel van die verskaffing van sekuriteit nie, moet die genomineerde eksekuteur ‘n bewys van sekuriteit aan die Meester lewer alvorens ‘n Eksekuteursbrief uitgereik word. Sodra die eksekuteur dit ontvang, sal hy met die boedeladministrasieproses begin. Die eksekuteur versamel dan al die inligting van instansies wat betrekking het op bates en laste van die oorledene.

Voorbereiding en opstelling van likwidasie- en distribusierekening

Met ontvangs van die Eksekuteursbrief, is die eksekuteur verplig om kennisgewings in die Staatskoerant en ‘n plaaslike koerant te plaas. Hierdie kennisgewings stel krediteure in kennis dat hulle hul eise teen die boedel binne dertig dae vanaf ‘n gespesifiseerde datum moet instel. Intussen gaan die eksekuteur voort met die waardering van die vaste en roerende bates en die inwin van besonderhede aangaande die oorledene se beleggings.

Sodra die nodige inligting ontvang is, sal die eksekuteur vasstel of die beskikbare fondse genoeg is om verpligtinge te dek. Indien nie, moet daar met die begunstigdes onderhandel word oor hoe hulle die kontanttekort vrywillig gaan dek. Indien hulle nie kan help nie, sal die eksekuteur verplig wees om van die bates te verkoop om die kontanttekort te oorbrug. Dit kan tot tydsame onderhandelings tussen die begunstigdesen ander partye lei.

Teen hierdie tyd behoort die eksekuteur ook vasgestel het wat die oorledene se posisie ten opsigte van belasting is en die nodige opgawes by die Suid Afrikaanse Inkomstedienste in te dien.

Afhangende van die omvang en kompleksiteit van die boedel kan die voorbereidingswerk enigiets van ses weke tot ses maande neem voordat die likwidasie- en distribusierekening opgestel kan word. Behalwe as uitstel toegestaan is, is die eksekuteur, wat onderhewig is aan die Boedelwet, verplig om binne ses maande na sy aanstelling ‘n rekening by die Meester in te dien.

Inspeksieproses

Sodra al die inligting bymekaar gemaak is, kan die eksekuteur ‘n likwidasie- en distribusierekening opstel. Hierdie rekening sit alle bates, laste en administrasiekoste uiteen en toon die verdeling van die netto bates en of daar boedelbelasting betaalbaar is of nie. Die rekening is dus ‘n opsomming van die hele administrasieproses.

Die rekening word by die Meester ingedien en word dan deur die beamptes by die Meesterkantoor ondersoek om te verseker dat alle vereistes nagekom is. Die Meester kan verdere inligting en bewyse aanvra by wyse van ‘n vraelys.

Oopstel vir Inspeksie

Wanneer die Meester tevrede is met die rekening, is die eksekuteur verplig om die rekening vir 21 dae ter insae te laat lê sodat belanghebbende partye die geleentheid het om dit te inspekteer. Om aan hierdie vereiste te voldoen, word kennisgewings in die Staatskoerant en ‘n plaaslike koerant geplaas wat die datums en plekke adverteer wanneer en waar die rekening ter insae sal lê. Gedurende hierdie geadverteerde periode mag belanghebbende partye besware oor die rekening aan die Meester indien.

Finalisering van die Boedel

Indien geen besware ingedien word nie, mag die eksekuteur voortgaan om die boedel te finaliseer. Hy sal skuldeisers (insluitende SARS) betaal, reël vir die oordrag van vaste eiendom en laastens erfporsies aan erfgename oorhandig/betaal. Die oordragproses neem tyd in beslag omdat wetgewing hier ‘n groot rol speel.

Wanneer die Meester bewyse het dat skuldeisers almal betaal is, dat al die erfgename hul erfporsies ontvang het en dat eiendom oorgedra is, word die boedel as afgehandel beskou en kan die eksekuteur aansoek doen vir ‘n liasseringsnota by die Meester.

Wetgewing

In Suid-Afrika word die administrasie van ‘n oorledene se boedel hoofsaaklik deur die Boedelwet van 1965 gereguleer. Die proses wat hier uiteengesit word is hoofsaaklik op die vereistes van hierdie wetgewing gebaseer.

Faktore wat bereddering kan vertraag

  • Afwesigheid van ‘n testament of geen genomineerde eksekuteur nie
  • Gebrekkige inligting en vertragings in die opsporing van bewyse vir die voltooiing van belastingopgawes
  • Gebrekkige dokumente en gebrek aan inligting
  • Kontanttekorte
  • Likwidasie van besigheidsbelange
  • Dispuut oor eise
  • Foutiewe, onprakiese of verouderde testamente
  • Staking van beperkte regte soos vruggebruik
  • Vertragings in die opspoor van inligting/dokumente vanaf sekere private en regeringsinstansies.
  • Dispute en onmin tussen erfgename

Kontak gerus vir Fanus Jonck as u enige Boedel navrae het (fanus@jonck.net)

Request

a call back

For a live decision or consulting request a phone call back. Submit your info via the form and one of our expert advisor will get in touch as soon as possible or just send us an email.

    I would like to discuss: